Die Rolspelers

Paul Alberts (eienaar en uitvoerende bestuurder)

Hoewel hy sy opleiding as joernalis gehad het, het Alberts hom onderskei as sosiaal-dokumentêre fotograaf. Verskeie boeke met sy foto’s is sedert 1976 gepubliseer. Sy werk is ook deur die jare gereeld ten toon gestel, ook in die VSA en Europa. Nadat hy deur die Universiteit van die Vrystaat en Die Volksblad as een van 100 leidende persone in die Vrystaat en Noord-Kaapland aangewys is, het Oliewenhuis-Kunsmuseum in Bloemfontein ‘n retrospektiewe tentoonstelling van Alberts se werk aangebied. Die tentoonstelling is ook in Johannesburg en Kaapstad gewys.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in Maart 2002 Alberts met ‘n Erepenning vir Fotografie vereer. Dit was die eerste keer dat hierdie gesiene instansie ‘n fotograaf in Suid-Afrika vir sy werk vereer het.

Kol. Frik Jacobs (raadgewend)

Nadat hy die grade BA, BA Hons en MA, sowel as ‘n Diploma in Hoër Onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het, het kol. Jacobs in 1971 as militêre geskiedkundige by die Suid-Afrikaanse Lugmag aangesluit. Hy het later ‘n inligtingswetenskaplike geword.

Kol. Jacobs het by die rekenarisering van die SA Weermag se inligtingstelsels betrokke geraak, sowel as by die inligtingstelsels self.

Hy was skrywer en mede-skrywer van vyf militêre geskiedenisboeke asook redakteur van Militaria, die SA Weermag se militêre geskiedenisjoernaal. Van 1983 tot 1986 was hy lektor in militêre geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat.

Nadat hy hom weer by die SA Weermag aangesluit het, het kol. Jacobs onder meer verskeie kere diens in die Operasionele Gebied gedoen.

In April 1991 is hy aangestel as Direkteur van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein.

 
↑ Terug na bo