Die Verhaal
Boere wag Engelse by 'n hinderlaag in
Kraal-Uitgewers is gebore uit die frustrasie wat die teleurstellende belangstelling van die algemene publiek in die 100-jarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog (ABO) gelaat het.
Die Anglo-Boereoorlog-herdenking het groot verwagtinge by mense geskep, waaronder skrywers, maar ook by sommige uitgewers, wat gemeen het daar is wins te maak uit hierdie stuk tragiese Suid-Afrikaanse geskiedenis. ‘n Aantal boeke het die lig gesien, maar dit was meesal van die populêre soort. Uitgewers het opsies op manuskripte geneem, maar hiervan het niks gekom nie toe hulle merk dat die belangstelling in gebeurtenisse van ‘n eeu gelede nie kommersieel noemenswaardig is nie.
So het goeie navorsing stof begin vergader met geen uitsig om ooit as volwaardige boeke gepubliseer te word nie.
Van hierdie manuskripte het op die lessenaar van die direkteur van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, kol. Frik Jacobs, beland. Hy het besef dat die moontlikheid om hierdie materiaal na 31 Mei 2002 uitgegee te kry sekerlik aansienlik skraler sou wees.
Een lywige manuskrip het kol. Jacobs veral gegrief: Small Arms of the Anglo-Boer War deur dr Ron Bester, internasionaal erkende versamelaar van vuurwapens van die ABO.
Kol. Jacobs se vriendskap met Paul Alberts, bekende fotograaf van Brandfort, het ‘n uitsonderlike oplossing vir hierdie netelige probleem gelewer. Alberts stel, soos kol. Jacobs, intens in die gebeurtenisse rakende die ABO belang, soveel so dat hy die plaas Louvain buite Brandfort gekoop het alleenlik omdat die Brandfort-Konsentrasiekampkerkhof daarop geleë is.
Heelparty boeke van Alberts se werk is reeds uitgee. Hy is bekend vir sy puntenerigheid omtrent die publikasie van sy werk. Dit het daartoe gelei dat hy telkens intens betrokke was by die uitgee van boeke oor sy werk en deur die jare het hy sodoende baie ervaring met die uitgee van boeke opgedoen.
Na ‘n indringende gesprek met kol. Jacobs, het Alberts met die gedagte vorendag gekom om ‘n uitgewery te begin wat veral boeke oor die Anglo-Boereoorlog sou uitgee. Vir Alberts was daar egter ‘n voorwaarde: die boeke moes van die beste gehalte moontlik wees en foto’s ter illustrasie van teks moes prominent en omvangryk wees. Die oplae sou uiteraard klein wees.
Kol. Jacobs is die oorkoepelende redakteur van alle publikasies oor die Anglo-Boereoorlog wat Kraal-Uitgewers uitgee; Alberts is op sy beurt die foto-redakteur en verantwoordelik vir die tegniese versorging van boeke.
Kraal-Uitgewers se boeke oor die ABO is ‘n liefdestaak wat die reëls van die uitgewersbedryf omverwerp tot voordeel van daardie klein groepie persone wat die belangrikheid van die gebeurtenisse van ‘n eeu gelede nie net besef nie, maar die insig en kennis wat ‘n studie van daardie tragiese gebeurtenisse ten gevolg het, wil bevorder. Indien Kraal-Uitgewers al is wat die 100-jarige herdenking van die ABO opgelewer het, dan sal dit goed wees vir die nageslagte.