Laai die bestelvorm af
Die volgende artikel deur Carina van Heerden het verskyn in die tydskrif DEKAT (Maart/April 2008).
Franse geskiedkundiges sidder en kry hoedervleis as hulle na Napoleon se dodemasker staar. Sentimentele Russe salueer nog Tsaar Peter die Grote se kop en skouers in koper. Nou het 'n ewe seldsame geskiedkundige fonds onlangs sy weg na prof. Andries Raath gevind. In hierdie eksklusiewe artikel onthul DEKAT die herontdekking van die boeregeneraal, De la Rey, se dodemasker, wat deur Anton van Wouw in koper gegiet is, skryf Carina van Heerden.
Generaal Jacobus Hercules de la Rey se dood was 'n teleurstelling aan die einde van 'n ridder verhaal. Hy is nie raakgeskiet in die spervuur tussen Boer en Brit nie, maar in 'n padblokkade om die berugte Foster bende vas te trek. Was De la Rey bloot op die verkeerde plek op die verkeerde tyd? 'n Koeël is na die wiele gevuur, maar het tot die noodlottige dood van die generaal met die woeste baard gelei. Dié stukkie geskiedenis is bekend. Maar wat min mense weet, is dat die bekende Suid-Afrikaanse beeldhouer, Anton van Wouw, die dag na sy dood sy dodemasker gemaak het.
'n Eksentriekeversoek of bloot 'n uitheemsheid?
'n Dodemasker is 'n vorm afdruk (van was of gips) van 'n persoon se gesig direk na sy dood. Gedurende die 18de en 19de eeu was dodemaskers ingespan om die gelaatstrekke van onbekende lyke vas te vang vir identifikasie-doeleindes. Maar dodemaskers is ookspesifiek vir koninklikes en beroemdes in dié tyd gereserveer. Die dodemasker van Napoleon Bonaparte, Chopin, Blaise Pascal, Voltaire en die Russiese koninklikes is goeie voorbeelde. Die tradisie van 'n dodemasker is hoegenaamd nie in die Afrikaanse geskiedenis bekend nie,wat dié onlangse fonds van genl. De la Rey s'n (wat in Oktober 2007 ontdek is) juis so uitsonderlik maak. Van Wouw het die dag na die generaal se dood toestemming van De la Rey se vrou, Nonnie, gevra om 'n dodemasker van hierdie formidabele leier te maak. Van Wouw het met sy Europese hand die legende van De la Rey behoue laat bly in 'n tradisie wat glad nie in Suid-Afrika bekend is nie.

Hoekom hy so graag dié kopermasker wou maak, weet niemand nie. Kon dit die absurde omstandighede van De la Rey se doodwees wat Van Wouw geinspireer het? Of het hierdie wêreldbekende kunstenaar 'n visionêre beeld gehad wat eers wou betoon aan 'n groot geskiedkundige figuur, dieselfde eer wat vir Henry VIII en die Russiese Tsaar Peter die Grote bestem was?
“Van Wouw het die masker gemaak omdat hy 'n groot student van die generaal se uitsonderlike profiel en gelaatstrekke was – al sy beelde oor die generaal is gemodelleer op die dodemasker – daarom het die masker ook uitsonderlike kunswaarde, “meen prof. Raath, senior professor in administrasiereg en regsfilosofie by die Universiteit van die Vrystaat”, in wie se bewaring die masker nou is. As voog van die masker, is dié fonds soos die ontdekking van die Krugerponde vir prof. Raath, ook 'n geskiedkundige uit Brandfort.
Met 'n groot fassinasie en liefde vir die Anglo-Boereoorlog het vele publikasies uit Raath se pen die wêreld van konsentrasiekampe, Siener van Rensburg en die Tweede Vryheidstryd noukeurig vir die leser geskets.
In 2007 het hyna 25 jaar se navorsing en ontdekkingstogte deur argiewe van swart-en-wit gekleurde dae, 'n geskiedkundige huldeblyk aan generaal Koos De la Rey gepubliseer.
“Dit is wat ek as kind dikwels gehoor het by wyse van mondelinge oorvertelling oor die grootheid van genl. De la Rey en sy vriend Nicolaas van Rensburg (asook die generaal se vrou, Nonnie) wou ek graag navors en ondersoek – noem dit maar my pelgrimsreis terug na die verre weste daar waar slegs die hardstes van die hardes kon oorleef en 'n bestaan maak.”
Prof. Raath se navorsing het uitgeloop op die publikasie van die boek De la Rey - 'n Stryd vir Vryheid (Kraal-Uitgewers, 2007). Ditvertel die verhaal van die Wes-Transvaal se groot leier wat 'n man vir sy vrou, pa vir sy kinders en steunpilaar vir sy vegters was.
“Daar is slegs een verwysing na die masker in al die beskikbare literatuur oor dié tyd – naamlik Harm Oost wie op 16 September 1914 gaan afskeid neem het van een van ons land se heel grootste figure – De la Rey.”
Oost het na die lykshuis in Fordsburg gegaan om die lyk te gaan besigtig. Wat hy daar gesien het, het ons nou die voorreg om in die masker te sien – en dit is die generaal soos hy gelyk het toe hy dood was. So beskryf Oost dié aand: “Daar is gedurende die dag deur die beeldhouer Van Wouw 'n gipsafdruk van die generaal se gesig geneem, net soos dit gebeur het met Napoleon na sy dood. En 'n vergelyking tussen die twee maskers het 'n treffende ooreenkoms tussen die twee koppe getoon. Weliswaar was Napoleon fyner en teerder, maar die vorme en lyne van die twee grotes se koppe is dieselfde.”
Die soektog begin
Nadat Raath hierdie beskrywing van Oost in sy boek Wie is die skuldiges gelees het, het hy die spoor van die masker begin volg.” Daarna het Raath 'n foto van prof. Alex Duffey (van die Anton van Wouw-museum in Pretoria) ontvang – dit het 'n baie belangrike rol gespeel om te weet hoe die masker gelyk het.
Die masker is deur 'n vriend van die kunstenaar by die veiling na Van Wouw se dood gekoop, waar die masker gebly het tot Raath daarvan te hore gekom het en saam met Kraal-Uitgewers, die voogskap daarvan oorgeneem. “As dit nie vir die boek was nie, sou ek nooit my oë in Oktober 2007 op hierdie fonds kon lê nie,” meen Raath. “As gevolg van die boek is die masker ontdek.”
Steve Hofmeyer, Charmaine Alberts & Prof Andries Raath by die dodemasker tydens die KKNK (2008)
Volgens hom is die masker “die ware genl. De la Rey en nie die interpretasie van die generaal se profiel nie”. Raath voeg ook by dat die ontdekking net soveel waarde vir Suid-Afrikaanse as internasionale kuns geskiedenis het.
Omdat Anton van Wouw – die groot student van die Boeregeneraals se gesigte – dit self gemaak het, kan die res van sy werk nou met die gelaatstrekke van die generaal op die masker vergelyk word. Die masker het tot met Van Wouw se dood in sy ateljee gehang waarna dit na private hande gegaan het. Omdat dit ook die enigste dodemasker is van 'n groot Boereleier (waarvan ons weet), is hierdie fonds net so belangrik vir die historici, en Raath voel dat so 'n ontdekking die aandag sal vestig op talle kultuur skatte van onberekenbare waarde wat moontlik nog in ons land rondswerf en beskerm moet word.
“Nog iets wat uniek is, is dat daar nog heelwat van die generaal se baard hare in die masker vassit!” Raath meen dat met die gewildheid van die De la Rey-fenomeen daar nou hernude belangstelling in De la Rey as mens is. “Oor die jare het kunstenaars De la Rey verskillend uitgebeeld: Theresa Schwartze het hom as mens voorgestel aan die einde van die oorlog, en dieselfde met andere wat bepaalde aspekte van hom wou beklemtoon. Vir die eerste keer weet ons hoe hy werklik gelyk het – die naaste aan De la Rey se werklike voorkoms, is Van Wouw se uitbeelding. Die masker oorbrug bykans honderdjaar se tydsverloop en bring generaal De la Rey honderdjaar later tot hier voor en by ons.”
Laai die bestelvorm af
Laai De la Rey en sy nasaat se DNA profiel af
Vir meer inligting oor die storie agter die dodemasker, kontak Kraal-uitgewers by:
admin@kraaluitgewers.co.za of 051-821-1856
