10 Julie 1797 – Voortrekkerleier Petrus Lafras Uys gebore

Op 10 Julie 1797, vandag 223 jaar gelede, is die Voortrekkerleier Petrus Lafras Uys op Potberg, Swellendam, gebore.

Piet is saam met sy seun Dirkie (Dirk Cornelis) in April 1838 dood tydens ’n geveg teen die Zoeloe’s by Italeni. Hy het skaars ’n jaar tevore, in April 1837, as die leier van sy trekgeselskap uit die Oos-Kaap na Natal getrek. In sy studie oor Piet Uys se lewe skryf dr. W.J. Markram: “Piet Uys is in Oktober 1797 as ’n kind van Jacobus Johannes Uys en Susanna Margaretha Moolman gedoop. Hy is in 1815 in die distrik Swellendam met sy niggie Alida Maria Uys getroud.” Uys het vóór die trek op Brakfontein, in die Gamtoosrivier-wyk van die Uitenhage-distrik gewoon en was “een van die eerste grensboerleiers wat ’n belangstelling in die binneland as moontlike vestingsplek getoon het. Hy het moontlik reeds in 1829 ’n tog na die binneland onderneem. Verder was Uys die organiseerder en leier van die bekende verkenningskommissie wat in September 1834 ’n tog na Natal onderneem het.”

(Skets: Daar bestaan geen foto, waarvan historici bewus is, van Piet “Italeni” Uys nie. Dié denkbeelde tekening van hom verskyn in Suid-Afrikaanse heldegalery.)