10 Maart 1922 – Rand mynstaking

Die nou byna vergete 1922-mynstaking aan die Rand het in Januarie 1922 uitgebreek, maar op 10 Maart 1922 krisisafmetings aangeneem toe nagenoeg 10 000 wit mynwerkers verskeie polisiekantore, spoorlyne en myngeboue in en om Johannesburg aangeval het. Hermann Giliomee beskryf dit as “’n kleinskaalse burgeroorlog in een van die rykste stede ter wêreld”. Krygswet is afgekondig en regeringsmagte is na Johannesburg gestuur. Die vonk in die kruitvat van dié staking was die skerp daling in die goudprys.Talle goudmyne kon bloot nie meer winsgewend voortgaan nie en meer en meer wit mynwerkers is ontslaan en goedkoper swart arbeid is aangestel.

Daar is gereken dat 90% van die stakers Afrikaners was, terwyl die meerderheid van die sowat 2 000 polisie- en kommandolede ook Afrikaners was. Bomme, masjiengewere, vliegtuie en tenks is ingespan om die staking te onderdruk. Volgens “Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika” (deur Giliomee en Mbenga) is 43 lede van die Suid-Afrikaanse leër, 29 polisiebeamptes en 81 burgerlikes dood in dié staking. Nagenoeg 650 mense is beseer en 853 is aangekla, waarvan 46 van moord. Agtien mense is ter dood veroordeel, waarvan vier uiteindelik gehang is vir hul misdade tydens dié staking.

(Foto’s: ’n Tenk in die strate van Johannesburg tydens die 1922-staking; en die Johannesburgse stadsaal word gepak met sandsakke tydens die staking. Bron: www.theheritageportal.co.za)