10 November 1917 – Helpmekaardag gehou

Op 10 November 1917 is Helpmekaardag gehou.

Die plundering van winkels en privaat eiendom tydens die Rebellie van 1914 was nie ongehoord nie en na afloop daarvan het eise teen die Rebelle ingestroom. Boonop is Rebelle ook stywe boetes opgelê. Die gesamentlike boetes en eise teen Rebelle het ongeveeg £400 000 beloop. Rebelle is egter nie aan hul eie lot oorgelaat nie en teen 1915 is die Helpmekaarbeweging begin om fondse vir die boetes en eise teen die Rebelle in te samel.

In Julie 1917 het die Kaaplandse Helpmekaar besluit om ’n fonds te stig om die laaste skuld te delg en Helpmekaardag is vir 10 November daardie jaar vasgestel. Volgens die taalhistorikus Jaap Steyn het Jacob Elisa de Villiers van die Paarl gesê hy is gewillig om £500 tot die Helpmekaarfonds by te dra, indien daar oor die hele land 500 mense gevind kon word wat elk £100 sou gee.

De Villiers sou later bekendstaan as Japie Helpmekaar. Die Beweging het vlam gevat en twee dae voor Helpmekaardag was daar reeds 1 187 honderdponders. Ná Helpmekaardag was daar steeds ’n oorskot van £60 000. “Die sukses van die Helpmekaarbeweging het Afrikaners laat besef dat hulle, ondanks die algemene armoede, heelwat geld het,” skryf Steyn in Die Afrikanerrebellie, 1914-1915.

Lees die volledige artikel oor die Helpmekaarbeweging hier. Die Afrikanerrebellie, 1914-1915 is beskikbaar in Kraal se e-winkel.

(Foto: Jacob Elisa de Villiers van die Paarl, ook bekend as Japie Helpmekaar. Kraal Uitgewers-argief)