11 Junie 1900 – Slag van Donkerhoek begin

Vandag 120 jaar gelede, op 11 Junie 1900, het die eerste dag van die Slag van Donkerhoek (ook bekend as Diamond Hill) net oos van Pretoria plaasgevind. Die Boeremag onder leiding van genl. Louis Botha, bygestaan deur generaals Koos de la Rey, Ben Viljoen, Tobias Smuts en andere, het in dié geveg wat as ’n keerpunt in die Anglo-Boereoorlog beskou word, te staan gekom teen die Britse mag onder die stuur van lord Roberts.

Kraal Uitgewers se jongste publikasie in die Kraal Histories-reeks, onder redaksie van prof. Fransjohan Pretorius, is getitel Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt van die Anglo-Boereoorlog. In dié boek ondersoek Andries Breytenbach onder meer die gebeure in die twee weke voor die slag, toe leiers van die ZAR aanbeveel het die Britte se aanbod om vrede aanvaar moet word. Die Boere was moeg. Hul moreel laag en met die inname van Pretoria, die hoofstad van die ZAR, het talle Boere boonop die kommando’s verlaat. Tog byt hulle vas en veg ’n stryd om oorlewing by Donkerhoek. In sy verslag aan president Paul Kruger het Botha gerapporteer dat “ik onze menschen nog nooit mooier heb zien staan”.

Die Slag van Donkerhoek kan met reg beskou word as ’n keerpunt in die oorlog. Die Boere het hierna, meer as ooit tevore, besef dat die konvensionele oorlogvoering iets van die verlede was en moes hierna aanpas by ’n nuwe, vinniger en meer beweeglike oorlog.

Donkerhoek is binnekort beskikbaar in Kraal se e-winkel. Klik hier vir meer inligting.