11 September

  • 1900: Paul Kruger, die laaste president van die ZAR, steek die grens na Mosambiek by Komatipoort oor op pad na Lourenço Marques. Vanweë Britse druk op Portugal was Kruger feitlik ’n gevangene in die woning van die Portugese goewerneur, Joaquim José Machado. Die jong koningin Wilhelmina van Nederland het die oorlogskip, De Gelderland, beskikbaar gestel om Kruger na Europa te neem. Hy het nooit weer na Suid-Afrika teruggekeer nie.
  • 1928: Afrikaans word vir die eerste keer in ʼn internasionale dokument gebruik toe die Konvensie van Mosambiek onderteken is.
  • 1950: Generaal Jan Smuts (80) sterf op sy plaas op Irene buite Pretoria. Smuts word beskou as een van die veelsydigste Afrikaners. Hy was onder meer raadgewer vir president Paul Kruger en argitek van die Unie van Suid-Afrika. Later was hy skerp veroordeel vir sy onderdrukking van die 1914-rebellie. Hy was egter ook ʼn prominente deelnemer aan die wêreldpolitiek en later medestigter van die Volkebond (die voorloper van die Verenigde Nasies).
  • 1990: Sewe ANC-lede wat as politieke gevangenes tydens die apartheidsjare aangehou is, word tydens samesprekings tussen die regering en die ANC vrygelaat. Dit is gedoen in ʼn poging om verdere konflik tydens die samesprekings te probeer vermy.