12 April 1947 – C. Louis Leipoldt sterf

Op 12 April 1947 sterf die Afrikaanse digter C. Louis Leipoldt in die ouderdom van 66 jaar aan ’n hartaanval.

Oor die skrywer se afsterwe skryf N.P. van Wyk Louw soos volg in “Die Burger” van 14 April 1947: “In die dae van ons grootste nood was Leipoldt die hart van die Afrikaanse volk. Dit was in die tyd ná 1900 toe dit gelyk het asof ons as volk finaal verneder en reddeloos verlore was, toe dit gelyk het asof ons sou ondergaan en uit die ry van die volke verdwyn sonder om ’n woord na te laat van wat ons kon wees. Toe het Leipoldt gepraat, woorde gegee aan ons smart en hierdie Afrikaanse wêreld van ons laat opglans omring van ’n liefde wat in honderde jare gegroei het. Elke blommetjie, elke diertjie van ons veld het hy genoem asof dit die laaste keer was wat dit genoem sou word. Dit is die Leipoldt wat ons die beste ken. Want ná hom kan ons as volk ondergaan, maar dit sal nie woordeloos wees nie.”

(Bron: Litnet)