12 Junie 1900 – Slag van Donkerhoek (dag 2)

Op 12 Junie 1900, vandag 120 jaar gelede, vind die tweede dag van die Slag van Donkerhoek tydens die Anglo-Boereoorlog plaas.

Dié veldslag het op die rante en heuwels oos en noord-oos van Pretoria gewoed – in die omgewing van Kameelfontein in die noordooste en Donkerhoek en Kleinfontein in die ooste. Andries Breytenbach se nuwe boek, Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog (onder redaksie van Fransjohan Pretorius) oor die aanloop tot die slag sowel as die slag self en die gebeure kort na afloop daarvan, is binnekort by Kraal Uitgewers beskikbaar.

Volgens lord Roberts het die Britse mag 162 verliese gely by Donkerhoek (ofte wel Diamond Hill soos dit onder die Britte bekendgestaan het): 14 man het gesneuwel, 4 was vermis of gevange geneem en 144 is gewond. Ander bronne het later dié verliese hoër gereken. Die Britte wat tydens die slag (en later in die omgewing gesneuwel het) is by die Diamond Hill-begraafplaas net suid van die N4-snelweg by die Rayton-afrit begrawe. Aan Boerekant het die verliese op nagenoeg 30 te staan gekom. ’n Boeremonument aan die bopunt van die heuwel by die Diamond Hill-begraafplaas bring hulde aan die Boerekommando’s wat hier geveg het. Lees Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog vir die mees omvattende geskiedenis van dié veldslag.

KLIK HIER om joune vandag nog te bestel.