12 Oktober 1899 – Eerste skote van die Anglo-Boereoorlog klap in die Wes-Transvaal

Op 12 Oktober 1899, vandag 121 jaar gelede, het die eerste skote van die Anglo-Boereoorlog het in die hartjie van die Wes-Transvaal geklap. Daardie eerste skote het by Kraaipan (nagenoeg 50 km suid van Mafeking) geval toe Johannes Cornelis (Hansie Veldkornet) Coetzee op die Britse gepantserde trein, Mosquito, geskiet het.

In sy boek Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 deur Pieter de Jager, word dié gebeure soos volg beskryf:

“Teen omstreeks kwart voor elf die aand het veldkornet J.C. Coetzee die eerste skoot van die Anglo-Boereoorlog afgevuur as ’n sein vir Burgers om die geveg te begin. Die troepe wat vinnig van hulle skok herstel het, het met grof- en kleingeskut teruggevuur, maar kon nie die aanval in die nagtelike duisternis afslaan nie. Die trein se bemanning, wat buite stelling ingeneem het, moes spoedig in die pantserwaens skuil. Nesbitt is in die mond gewond en korporaal Williams neem bevel oor. Hy beveel onmiddellik dat die trein moet retireer. Die Mauserkoeëls het egter van die lokomotief se stoompype beskadig – gevolglik was daar nie genoeg stoom om te beweeg nie en is die masjinis, Booth, ook gewond. Verdere pogings om die lokomotief te laat beweeg, het ook misluk en hulle was in die spervuur van die Boere vasgevang. Die skietery het die hele nag voortgeduur, sonder dat enige kant werklik vordering gemaak het. Kort voor dagbreek kry die troepe in die trein berig dat die Boere die pantserwa gaan storm en met gevelde bajonette maak hulle gereed vir die aanval.”

Lees meer hieroor (en oor byna elke ander skoot van die oorlog in die Wes-Transvaal) in Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902. Die boek is hier beskikbaar in Kraal se e-winkel.

(Foto: Die lokomotief wat deur die Boeremagte onder genl. J.H. de la Rey te Kraaipan buite aksie gestel is. Die gat in die stoomketel is bo regs van die seun sigbaar. Bron: Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog)