13 Januarie 1901 – Die vyf swemmers ontsnap

In een van die opspraakwekkendste ontsnappings van Boerekrygsgevangenes gedurende die Anglo-Boereoorlog, ontsnap Willie Steyn en vier vriende (Piet Botha, Ernst Hausner en die broers Louw en George Steytler) op Sondag 13 Januarie 1901 van die “Catalonia” waar die skip in die hawe gelê het.

Hulle duik laatnag in die seewater in die hawe van Colombo, hoofstad van Ceylon, en swem na vryheid. Steyn-hulle sou die volgende oggend as deel van die laaste groep gevangenes aan boord die skip na die binneland geneem word waar hulle na die Diyatalawa-kamp geneem sou word. Nadat Steyn van die “Catalonia” ontsnap het, bereik hy nagenoeg twee en ’n half uur later die Russiese stoomskip, die “Gherson”.

Die “vyf swemmers” soos wat hulle later sou bekendstaan, is met ope arms aan boord die Russiese skip ontvang. Met die hulp van die Russe is Steyn-hulle na Rusland geneem, waarvandaan hulle hulp ontvang het om na Europa te reis. Op 18 Februarie ontmoet hulle ook pres. Paul Kruger – ’n hoogtepunt vir dié getroue krygers. Hul hoofdoel was egter om terug te keer na Suid-Afrika. Steyn, Botha en Louw Steytler slaag uiteindelik teen omstreeks Julie 1901 daarin om weer aan te sluit by ’n afdeling van genl. Manie Maritz se kommando in die Brandvlei-omgewing. (Botha sterf ongelukkig op 26 September 1901 nadat hy ernstig gewond is, sy been verloor het en ontsteking ontwikkel het.)

Die swemmers se verhaal is volledig opgeteken in C.J. Barnard se “Die vyf swemmers: ’n Ware ontsnappingsverhaal” (Tafelberg, 1988) en ’n korter weergawe van hul wedervaringe verskyn ook in Albert Blake se Ontsnap! Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid (Tafelberg, 2015).

(Foto: Die vyf swemmers saam met ds. H.A. Gillot – bekend as ds. Boer – van die Nederlandse Hervormde gemeente in St. Petersburg, in 1901. Agter, van links na regs, staan Louw Steytler, Ernst Hausner en Piet Botha. Sittend is George Steytler en ds. Gillot en voor is Willie Steyn. Bron: Die vyf swemmers)