14 Augustus 1875 – AFRIKAANSE TAALDAG

AFRIKAANSE TAALDAG: Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig.

Dit was die eerste amptelike poging om Afrikaans as eie taal te vestig en daarom word dié dag jaarliks as Afrikaanse Taaldag gevier. Die GRA het verskeie aktiewe pogings aangewend om die taal op te bou en onder meer ’n eie blad (getiteld Die Afrikaanse Patriot) gepubliseer en ’n eie uitgewer op die been gebring. ’n Eeu ná die stigting van die GRA, in 1975, is die Afrikaanse Taalmuseum amptelik in die Paarl geopen in dieselfde gebou waarin dié genootskap 100 jaar vantevore in die huis van Gideon Malherbe tot stand gekom het.

Die bekende taalhistorikus J.C. Steyn se boek oor die geskiedenis van die aktivisme vir Afrikaans Verset & opbou: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans stel onder meer ondersoek in na die stigting van die GRA en die aktiviste wat daarby betrokke was. 

(Die eerste uitgawe van Die Afrikaanse Patriot het op 15 Januarie 1876 verskyn. Die embleem is ontwerp deur die aktivis G.R. von Wielligh op versoek van S.J. du Toit.)


Min dinge sê “lekkerrrr” soos Afrikaans! Daarom kan Kraal Uitgewers-ondersteuners hulle regmaak vir wilde winskope gedurende “Taalnaweek”.

Vanaf 14 Augustus 2020 skop die partytjie af met die viering van Afrikaanse Taaldag en eindig op 16 Augustus 2020 wanneer die “Taalnaweek” tot ‘n einde kom. Vir Afrikaanse Taaldag en dan die hele “Taalnaweek” geld webblad aanbiedings op verskeie boeke en produkte wat Afrikaans vier.

So wees ‘n “Regte Afrikaner” en vier Afrikaanse Taaldag met ‘n Afrikaanse boek of produk (of twee) teen lekkerrrr afslag hier