14 Junie 1897 – Joodse diamantmagnaat Barney Barnato pleeg selfmoord

Op 14 Junie 1897 pleeg die Joodse diamantmagnaat Barney Barnato selfmoord toe hy naby Madeira oorboord spring van die “Scot”.

Barnato en sy gesin was vanaf Kaapstad onderweg na Southampton. Hy was 44 jaar oud. Barnato is gebore as Barnett Isaacs, maar het sy naam verander terwyl hy as komediant gewerk het. Hy het in 1873 platsak na Suid-Afrika gekom en skaars tien jaar later was hy ’n miljoenêr en eienaar van die Barnato Diamond Mining Company (’n noemenswaardige mededinger van Cecil John Rhodes se De Beers-maatskappy). Talle Jode het reeds sedert die 1860’s na Suid-Afrika gekom. In “Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika” deur Hermann Giliomee en Bernard Mbenga word die invloei van Jode so beskryf: “Die ontdekking van diamante in die laat 1860’s het ’n stroompie Joodse fortuinsoekers uit hoofsaaklik Engeland en Duitsland gelok. Alhoewel daar min van hulle was, het hulle ’n beduidende rol in die snelle ontwikkeling van die bedryf gespeel. Jode het met diamante handel gedryf, in sommige gevalle onwettig, kleims besit en bewerk, en mynmaatskappye opgerig, plaaslik sowel as in Europa. Onder die suksesvolstes was die windmakerige Londenaar Barney Barnato, Sammy Marks uit Litaue en sy neef Isaac Lewis, en die Hamburgse boorling Alfred Beit.”