14 September 1862 – Jacobus du Toit deur Transvaalse burgers geskiet en gewond

Vandag 152 jaar gelede, op Sondag 14 September 1862, word Jacobus du Toit, seun van Pretoria se eerste magistraat, Andries du Toit, deur Transvaalse burgers geskiet en gewond. Dié voorval het plaasgevind in ’n tyd van onenigheid in die ZAR, waar Stephanus Schoeman na bewering ’n faksie teen die toenmalige president, M.W. Pretorius, gelei het. Ten tye van die voorval is Jacobus te perd op pad om ’n boodskap by Schoeman se vrou af te lewer. Hy het geweier om te stop (sommige beweer dat hy nie die opdrag gehoor het nie) toe ’n groep burgers onder leiding van Jacob Malan hom wou voorkeer, waarna hulle op hom skiet en sy perd noodlottig gewond het. Du Toit is in die skouer gewond en was daarna gedeeltelik verlam gelaat. Uit argiefstukke blyk dit dat Jacobus na die voorval jaarlikse onderhoud benodig het.

In die boek Afrikaanse kultuuralmanak is die voorval soos volg beskryf: “Die gebeurtenis het die jong Pretoria geskok – veral omdat die voorval tussen die eerste en tweede lui met kerktyd plaasgevind het.” Bloedstraat is na aanleiding van hierdie voorval vernoem. Die staat se vorige naam is onbekend.

(Foto: Andries du Toit saam met sy vrou en dogter. Du Toit se seun Jacobus is tydens die Bloedstraat-voorval gewond.)