14 September

  • 1488: Die Portugese seevaarder Bartolomeus Dias rig ʼn klipkruis op die eiland St. Croux, net buite die huidige Port Elizabeth, op tydens sy ontdekkingsreis om Afrika in ʼn poging om ʼn roete na Indië te vind.
  • 1862: Jacobus du Toit, seun van Pretoria se eerste magistraat, Andries du Toit, word deur Transvaalse burgers geskiet en gewond in ʼn tyd van onenigheid in die ZAR, waar Stephanus Schoeman na bewering ʼn faksie teen die toenmalige president, M.W. Pretorius, lei. Ten tye van die voorval is Jacobus te perd op pad om ʼn boodskap by Stephanus se vrou af te lewer en hy stop nie wanneer burgers onder leiding van Jacob Malan hom voorkeer nie. Hulle skiet op hom en sy perd word noodlottig gewond. Bloedstraat word na aanleiding van hierdie voorval vernoem.
  • 1889: Die skrywer Leon Maré word op Pietersburg in die ZAR gebore. Dié Afrikaanse skrywer is veral bekend vir sy boek Nuwejaarsfees op Palmietfontein (1918) en Ou Malkop (1920). Hy ontvang in 1920 ook die Hertzog-prys vir prosa.
  • 1918: Die eerste persoon met Spaanse-griep word op dié dag in Durban gediagnoseer. Meer as die helfte van Suid-Afrika se bevolking (ses miljoen in 1918), het dié griep opgedoen. Meer as 140 000 mense het in Suid-Afrika alleen as gevolg van dié griep gesterf. (Wêreldwyd het tussen 25 en 40 miljoen mense gesterf). Die pandemie het later bekend gestaan as die Groot Griep.