16 Januarie 1901 – Slag van Silkaatsnek

Hierdie skets van Silkaatsnek is op 16 Januarie 1901 tydens die Anglo-Boereoorlog deur ’n Britse soldaat ene Erskine gemaak en verskyn in Kraal Uitgewers se boek “Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902”. Die Slag van Silkaatsnek het enkele maande vantevore, op 11 Julie 1900, hier plaasgevind. Generaal J.H. de la Rey het op 9 Julie 1900 die grens van die Rustenburg-distrik bereik, waar hy te Jericho, ’n sendingstasie sowat 26 myl vanaf Silkaatsnek, op inligting van sy verkenners gewag het. Hulle het berig dat al die oorgange oor die Magaliesberg deur Britse magte beset is. Teen dagbreek op 11 Julie 1900 neem De la Rey die Britse magte onder vuur met Otto von Losberg se kanonne.

Die Boere op die hoë posisies aan die oostekant van Silkaatsnek verdryf die Britte. De la Rey trek om die Britse stellings, sy burgers bestorm die kanonne en pen die Britse magte vas. Teen sononder hys die Britte die wit vlag. ’n Poging tot ontsetting van die Britte te Silkaatsnek misluk. Die hele Britse mag val in De la Rey se hande. Afgesien van 189 krygsgevangenes, maak hy baie perde buit, lê beslag op twee kanonne, ammunisie en talle gewere. De la Rey se oorwinning het die moraal van die burgers in Wes-Transvaal dermate versterk dat talle wat reeds wapen neergelê het, weer by die kommando’s aangesluit het. Die historikus Elria Wessels het hieroor opgemerk: “Die geesdrif vir die stryd vlam weer hoog.”

Lees meer oor dié veldslag in Pieter de Jager se boek “Wes-Transvaal: Brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902”. Dié boek is beskikbaar by Kraal Uitgewers.