16 Mei 1842 – Skrywer Melt Brink gebore

Op 16 Mei 1842 is die skrywer Melt Brink in Kaapstad gebore.

Brink het later bekend geword vir sy grapperige versies, stories en toneelstukke. Die taalstryder Jannie de Waal het in die 1890’s opgemerk dat Brink se skryfwerk die publiek laat voel het dat Afrikaans ’n aparte taal is. “Geen Afrikaanse stukke is so dikwels voorgedra in konserte en by ander geleenthede as syne [Brink s’n] nie,” het De Waal verklaar. Die taalhistorikus Jaap Steyn skryf in sy omvattende geskiedenis oor Afrikaans – Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare: “Daarmee wou hy nie Afrikaans bevorder nie, want hy het Afrikaans bloot as ’n dialek beskou – ‘goed genoeg vir grappe, maar nie goed genoeg vir verheffing tot plaasvervanger vir Nederlands nie. Hy was uitdruklik daarteen dat die status van Afrikaans verhoog word’”.

In 1911 was Brink egter die een wat die SA Akademie versoek het om gestandaardiseerde spelreëls vir Afrikaans op te stel. “Sy voorstel is op die jaarvergadering bespreek, maar die bespreking is gestaak, uit vrees vir ’n twis tussen die twee groepe. Sterk weerstand teen die bevordering van Afrikaans bo Nederlands het van veral teoloë en predikante gekom, wat dit nie as ’n geskikte kanseltaal beskou het nie. Die Kaapstadse kerkraad het aan die Sinode van 1915 ’n beskrywingspunt voorgelê waarin hy sy afkeuring van die gebruik van Afrikaans as amptelike taal van die kerk uitspreek,” skryf Steyn.

Lees meer oor die geskiedenis van Afrikaans in Steyn se genoemde boek sowel as Verset & opbou: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans. Albei boeke is beskikbaar by Kraal Uitgewers se e-winkel.

(Foto: Melt Brink en sy telegramgedig aan genl. De Wet. Dié gedig is as gelukwensing gestuur vir die generaal se verjaarsdag wat op 7 Oktober 1915 in die gevangenis in Johannesburg gevier is. De Wet het in daardie stadium gevangenisstraf vir sy aandeel aan die Rebellie van 1914-1915 uitgedien.)