17 November 1998 – Paleontoloë ontdek gorgonops skelet

Op 17 November 1998 ontdek ’n span paleontoloë van die Suid-Afrikaanse Museum en die Universiteit van Washington (UW) die volledige skelet van ’n gorgonops, ’n wrede roofdier met eienskappe van ’n reptiel en soogdier wat nagenoeg 250 miljoen jaar gelede reeds uitgesterf het.

Dié ontdekking is buite die Vrystaatse dorpie Bethulie gemaak. In ’n artikel oor dié vonds wat deur die UW gepubliseer is, het museumkundiges die ontdekking as een van die belangrikste paleontologiese ontdekkings van die 20ste eeu in Suid-Afrika bestempel. Hoewel daar dekades lank reeds fossiele in die Karoo versamel word, is die ontdekking van dié gorgonops uniek aangesien die fossiel volledig is. Gorgonops was die grootste roofdier van die laat Paleosoïese tydperk, ’n era nog voor die dinosourusse, en het nagenoeg 3 m lank geword.

(Foto: Roger Smith, links, van die Suid-Afrikaanse Museum, en Peter Ward, van die UW, op die terrein waar die ontdekking gemaak is, en ’n skets deur Cedric Hunter van ’n gorgonops wat ’n dicynodon aanval, bron: UW News, 8 Desember 1998.)