17 September 1819 – M.W. Pretorius in Graaff-Reinet-distrik gebore

Op 17 September 1819, vandag 201 jaar gelede, is M.W. (Marthinus Wessel) Pretorius, eerste president van die ZAR en seun van die Voortrekkerleier Andries Pretorius, in die Graaff-Reinet-distrik gebore.

Hy het as jong man sy ouers op die trek na Natal vergesel en later ook na Transvaal getrek. As die eerste president van die ZAR het hy daarna gestreef om ’n sterker verhouding met die Oranje-Vrystaat te vestig en het ook gehoop om die republieke tot ’n onafhanklike Voortrekkerrepubliek te verenig. In 1859 en 1860 word hy gelyktydig president van beide die ZAR en die Oranje-Vrystaat. Pretorius het sodoende die enigste persoon in die geskiedenis geword om op dieselfde tyd die president van twee onafhanklike republieke te word. Hy slaag egter nie daarin om ’n unifikasie van die twee republieke te bewerkstellig nie.

Verskeie probleme het hom gedurende  sy amptermyn geteister en uiteindelik het sy hantering van die diamantveldkwessie en Transvaal se verlies van daardie gebied groot skade aan mense se vertroue in sy leierskap veroorsaak. Hy word in 1871 verplig om te bedank en hoewel hy vir ’n tyd lank ’n mindere rol in die politiek gespeel het, tree hy weer ná die Britte se anneksasie van Transvaal in 1877 op die voorgrond saam met Paul Kruger en Piet Joubert (as lid van die Transvaalse Driemanskap).

Lees meer oor sy rol in die Driemanskap en die Eerste Vryheidsoorlog in Jackie Grobler se boek Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881. Dié boek is in 2019 met die Protea Boekhuisprys vir geskiedskrywing bekroon en is beskikbaar in Kraal Uitgewers se e-winkel.