18 Februarie 1920 – Sammy Marks sterf

Op 18 Februarie 1920 sterf die suksesvolle Joodse sakeman Samuel Marks (beter bekend as Sammy) in Johannesburg. Sammy is in 1844 in Litaue (in die noordooste van Europa) gebore, maar het reeds as 18-jarige na Engeland geëmigreer, waarna hy in 1868 na Kimberley getrek het.

Hier het Sammy se vernuf as entrepreneur na vore gekom. Op dié myndorp het hy ’n algemene handelaar oopgemaak en later het Sammy (en sy neefs Isaac en Barnet Lewis) in verskeie bedrywe begin naam – en geld – maak. Hulle het onder meer belang in die mynbou-, vervoer-, glas- en drankbedrywe gehad. Sammy het veral goeie verhoudinge met die leierskap van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) gehad, maar ná die Anglo-Boereoorlog ook goeie verhoudinge met die Britse leierskap gehandhaaf en selfs later Louis Botha en Jan Smuts in die Unie ondersteun. Teen die einde van die 1900’s is Marks & Lewis as een van die tien rykste maatskappye aan die Witwatersrand beskou.

Die plaas Zwartkopje, oos van Pretoria, was vanaf 1884 tot 1909 die Marks-gesin se hooftuiste, voordat hulle in Sammy se laaste jare in Johannesburg gewoon het. Die Sammy Marks-huismuseum is vandag nog ’n uitsonderlike voorbeeld van die Victoriaanse leefstyl wat dié gesin buite die hoofstad geniet het. (Dié foto uit 1903 toon die Marks gesin op ’n besoek aan Engeland.)