18 September 1761 – SA se eerste groot boekversamelaar in Kaapstad oorlede

Suid-Afrika se eerste groot boekversamelaar, die Duitser van geboorte Joachim Nikolaus von Dessin, is vandag 259 jaar gelede, op 18 September 1761, in Kaapstad oorlede.

Von Dessin se boekery was in die 18de eeu die grootste versameling aan die Kaap. Hierdie versameling het later tot die oprigting van eerste openbare biblioteek gelei. Hoewel die boeke oorspronklik aan die NG Kerk bemaak is, is dit in 1820 aan die Nasionale Biblioteek geskenk en word vandag nog daar bewaar.

Die dagboek van Adam Tas word as een van die belangrikste manuskripte in dié versameling beskou. Die Von Dessin-versameling het ten tye van sy dood nagenoeg 4 000 publikasies en manuskripte bevat. Talle van die boeke is eerste uitgawes (onder meer van die Fransman René Descartes). Von Dessin het in 1726 as soldaat in diens van die VOC getree en kom in 1727 in die Kaap aan. Hier trou hy in 1730 met Christina Ehlers, word in 1735 ’n boekhouer en in 1737 word hy aangestel as sekretaris van die weeskamer. Later word hy onderkoopman en word as ’n vermoënde man aan die Kaap beskou. Sy huis was op die hoek van Waal- en Koningin Victoriastraat in Kaapstad geleë. Dié plek word vandag nog met ’n gedenkteken gemerk.