19 April 1876 – Kunstenaar Erich Mayer gebore

Die kunstenaar Erich Mayer is vandag 144 jaar gelede, op 19 April 1876, in Karlsruhe, Duitsland, gebore.

Ná skool studeer Mayer argitektuur met tekene en skilderkuns as byvakke. Weens ’n longtoestand word hy aangemoedig om na ’n droëer klimaat te trek en emigreer na die Vrystaat. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy by die Boeremagte aan, maar word in 1900 krygsgevange geneem en na St. Helena verban. Hier skilder en teken hy gereeld tonele van die eiland. Terug in Suid-Afrika skilder hy veral natuurtonele van die Vrystaat en die Transvaalse Laeveld. Tydens die Eerste Wêreldoorlog word Mayer geïnterneer en by Fort Napier aangehou en benut dié tyd in aanhouding om hom op sy kuns toe te spits. In 1928 trou Mayer met Margaretha Gutter en die paartjie vestig hulself in Pretoria. Gedurende sy loopbaan is die kremetartboom een van Mayer se gunsteling onderwerpe. Mayer is op 10 Augustus 1960 in Pretoria oorlede.

(Bron: Afrikaanse Kultuuralmanak)

 

(Skets: Erich Mayer-sketse van die Deadwood- en Broadbottom-kampe sowel as van die kamplewe op St. Helena. Mayer het verskeie sketse tydens sy tyd as krygsgevangene hier geteken. Bron: Sainthelenaisland.info)