19 Januarie 1901 – vredesgesant Johannes Jacobus Morgendaal sterf

Op 19 Januarie 1901 sterf die vredesgesant Johannes Jacobus Morgendaal nadat hy tien dae tevore (op 9 Januarie 1901) dodelik gewond is deur genl. Stoffel Froneman.

Morgendaal was voor die Anglo-Boereoorlog ’n vooraanstaande persoon in die Kroonstad-omgewing, maar het teen die middel van 1900 die wapen neergelê en die eed van getrouheid aan Brittanje afgelê. Op 28 Desember 1900 vertrek Morgendaal en Andries Bernardus Wessels na genl. C.R. de Wet se laer om hom tot vrede te probeer oorhaal. Hulle word egter gevange geneem en verskyn op 6 Januarie 1901 voor ’n krygshof (o.l.v. Froneman). Uitspraak is voorbehou en op 9 Januarie ontvang die laer foutiewe inligting dat ’n Britse mag op pad is. In die geskarrel om op te saal, het Morgendaal die proses blykbaar probeer vertraag, waarna Froneman hom met ’n sambok geslaan het om hom aan te jaag. De Wet het die gebeure gesien en Froneman opdrag gegee om Morgendaal te skiet. Hy (Morgendaal) is daarna ernstig in die skouer gewond deur Froneman. Hoewel hy mediese versorging ontvang het, het Morgendaal tien dae later aan sy wond beswyk.

(Bron: Boereverraaier deur Albert Blake)
(Foto: Genl. Stoffel Froneman op sy perd, Ceylon.)