19 Maart 1919 – Jack Hindon sterf

Op 19 Maart 1919 sterf die Skotse Afrikaner Jack Hindon in Pretoria. Hindon is in 1874 in Stirling, Skotland gebore en het as 14-jarige seun by die Britse weermag aangesluit. Hy is na Zoeloeland gestuur as lid van die Britse militêre orkes (jong seuns is dikwels as sogenaamde “band boys” ingespan), maar dros uit die weermag en gaan woon op Wakkerstroom. Kort voor lank raak hy so geheg aan sy nuwe tuiste in die ZAR dat hy tydens die Jameson-inval van 1895-1896 aktief aan Boerekant veg. As blyk van waardering vir dié bydrae ontvang Hindon hierna Transvaalse burgerskap. Hy is egter veral bekend vir sy onverskrokke optrede tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) toe hy eers as lid van die Middelburg-kommando geveg het en daarna ’n verkennerseenheid gelei het. Onder leiding van generaal Ben Viljoen het Hindon saam met kaptein Henri Slegtkamp berugte treinvernielers geword en veral verwoesting langs die Delagoabaai-spoorlyn gesaai. Die Jack Hindon-medalje vir dapperheid vir lede van kommando’s van die Suid-Afrikaanse Weermag in laer range is in 1970 ingestel, maar enkele jare later (in 1975) afgeskaf.

Lees hier meer oor die Hindon en ander meester-treinvernielers van die Anglo-Boereoorlog. Die publikasie “Treinvernielers: Boereaanvalle op en vernietiging van treine, stasies en spoorlyne in die ZAR tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902” is beskikbaar in Kraal Uitgewers se e-winkel.

(Bron: “Oliver ‘Jack’ Hindon, Boer hero and train wrecker” in “Military History Journal”, 2001, 12(1); fotobron: “Kaptein Hindon: Oorlogsavonture van ’n baas verkenner” deur Gustav Preller)