19 September 1933 – Afrikaanse digter Ingrid Jonker gebore

Die Afrikaanse digter Ingrid Jonker is vandag 87 jaar gelede, op 19 September 1933 gebore.

Die taalhistorikus Jaap Steyn skryf soos volg oor dié geliefde digter in sy werk “Ons gaan ’n taal maak”: “Ingrid was die dogter van Abraham Jonker en Beatrice Cilliers … Wat Ingrid Jonker bekend gemaak het, was nie slegs ’n aantal pragtige verse nie, maar ook haar verhouding met André P. Brink. Haar selfmoord op 31-jarige leeftyd het veral die letterkundige wêreld geskok. Sy het by Drieankerbaai verdrink nadat sy vroeg die oggend van 19 Julie 1965 om 03:00 haar woonstel verlaat het. Sy het met die polisie in die polisiekantoor van Seepunt gaan gesels, waarna niemand haar weer lewend gesien het nie. Dit was ’n mistige nag en die see was baie onstuimig. Sy het dikwels oor selfmoord gepraat en aan haar vriende gesê dat dit seker nie sleg sal wees om in die see te sterf nie. Op 22 Julie is sy in die Woltemade-begraafplaas in Maitland, Kaapstad, begrawe. ’n Paar dae later, op 25 Julie, het sowat 50 mense by haar graf gaan luister na ’n waardering deur Uys Krige en ’n voordrag van twee van haar gedigte deur Jan Rabie. Krige het opgemerk: ‘Haar allerbeste gedigte – en ek sê dit ná rype oorweging – is vir my onder die beste wat in die afgelope vyftien jaar hier by ons geskryf is. Haar kindergedigte is die beste.’ Jan Rabie het aangekondig dat ’n Ingrid Jonkerprys ingestel is om jong digters in Afrikaans en Engels aan te moedig.”

Lees meer oor Jonker en ander wat help vorm het aan Afrikaans in Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die ‘Patriot’-jare. Die boek is beskikbaar in Kraal se e-winkel.