1914-Rebellie: “De Wet, Beyers en … ek”

1914-rebellie-de-wet-beyers-en-ekDit is vanjaar reeds 100 jaar sedert die opspraakwekkende 1914-Rebellie plaasgevind het. Dié opstand, wat onder talle Afrikaners nou in vergetelheid geraak het, het egter in 1914 en in die dekades wat daarop gevolg het ʼn bittere letsel in families, dorpe en selfs in kerke gelaat. Dit het nie net tot die dood van generaal C.F. Beyers, die teregstelling van Jopie Fourie en die gevangeneming van talle Rebelle, insluitende genl. Christiaan de Wet, gelei nie, maar ook verarming en skeuring op verskeie vlakke van die Afrikaner-samelewing tot gevolg gehad.

Hoewel dit die grootste burgeroorlog in die geskiedenis van Suid-Afrika was waar wit Suid-Afrikaners teen mekaar te staan gekom het, was daar dikwels stilswye oor die gebeure.

Kraal Uitgewers het op 15 September (die 100ste herdenking van genl. Koos de la Rey se skietdood) ’n projek ter herdenking van die 1914-Rebellie bekendgestel. Die hoogtepunt van die projek is die bekendstelling van die boek Die Afrikanerrebellie, 1914-1915.

Die projek sluit verder ook in die bekendstelling van ʼn databasis van Rebelle (saamgestel uit bronne beskikbaar by die Documentation Centre van die Departement van Verdediging) en vroue wat aan die historiese vroue-optog na die Uniegebou in 1915 deelgeneem het om die vrylating van Rebelle-gevangenes te eis.

Hoewel die geskiedenis dikwels net die leiersfigure in die kollig plaas, vertel dié projek getiteld “De Wet, Beyers en . . . ek” ook van die “voetsoldate” van die Rebellie. ʼn Databasis, bestaande uit nagenoeg 2 000 name van Rebelle, is opgestel en word tans in Galery 20/20 by die Voortrekkermonument in Pretoria uitgestal. Dié databasis is egter ook aanlyn op Kraal Uitgewers se webblad beskikbaar (by www.kraaluitgewers.co.za). Verskeie kategorieë inligting oor Rebelle is in dié databasis vervat, naamlik die van, doopname of voorletters van die Rebel, die plek of plaasnaam van afkoms en plek en datum van aanhouding, oorgawe of gevangeneming (indien van toepassing). In sekere gevalle is besonderhede oor persone wat die betrokke Rebel in hegtenis geneem het ook beskikbaar.

Benewens die databasis van Rebelle is ʼn lys van sowat 500 afgevaardigdes wat aan die eerste vroue-optog na die Uniegebou deelgeneem het, ook bekendgestel. Meer as 3 000 vroue het aan die optog, wat op 4 Augustus 1915 plaasgevind het, deelgeneem om te pleit vir amnestie vir die Rebelle wat nog in aanhouding was. Dié databasis vorm ook deel van die Galery 20/20-uitstalling en is ook op die Kraal Uitgewers-webblad beskikbaar.

Kom soek die rebel in jou DNS (en vertel daarvan)

Die publiek word uitgenooi om nie net die databasisse te gebruik vir die opsoek van voorsate nie, maar ook om Kraal by te staan in die uitbreiding daarvan. Enige bykomende inligting oor reeds gelyste persone of die toevoeging van name wat nie op die databasis verskyn nie, word verwelkom.

So is bykomende inligting, foto’s, afskrifte van dokumentasie wat met die Rebellie verband hou, ook welkom.

Besoek www.kraaluitgewers.co.za vir meer inligting oor die “De Wet, Beyers en . . . ek”-projek en skakels waarby inligting aangestuur kan word. Besoek ook die blad vir meer inligting oor Kraal se nuutste publikasie, Die Afrikanerrebellie, 1914-1915.