2 Julie 1988 – Motorbom ontplof na rugbywedstryd op Ellispark

Twee mans is dood en meer as 30 ander mense beseer toe ’n motorbom op 2 Julie 1988, (vandag 32 jaar gelede) ná ’n rugbywedstryd op die Ellispark-stadion in Johannesburg ontplof het.

’n Vlaag bomontploffings het in dié tyd plaasgevind. Die Ellispark-bom was die vierde binne slegs twee dae in Pretoria en Johannesburg. In ’n SAPA-berig uit 1998 oor die Waarheids-en-versoeningskommissie se amnestieverhore het een van die bomplanters, die Umkhonto we Sizwe-leier Lester Dumakude, aangevoer dat hy toegekyk het hoe die twee mans in die ontploffing sterf. Clive Clucas (48) en Linus Marais (34) het die Curriebekerkragmeting tussen Transvaal en die Vrystaat ’n rukkie voor die einde van die wedstryd verlaat en in die rigting van die kar met die bom gestap waarna Dumakude die bom met ’n afstandbeheerde toestel laat ontplof. In sy verhoor het Dumakude verklaar dat hy homself as ’n plofstofkenner beskou en sy opleiding in Kuba en die voormalige Sowjetunie ondergaan het. Een van die Ellispark-bomslagoffers wat die ontploffing oorleef het, Gordon Eddey, het in 2008 as 51-jarige roeier aan die Paralimpiese Spele in Beijing deelgeneem. Eddey het sy een been in die ontploffing verloor.

(Foto: Oorblyfsels van die BMW waarin die motorbom vir die Ellispark-aanval geplant was. Fotograaf Neville Petersen, SA-persfotograaf, beskikbaar op South African Mirror. Ander bronne: SAPA, IOL)