2 Julie

  • 1988: Twee mense sterf en 37 word beseer toe ʼn motorbom by die Ellispark-stasie in Johannesburg ontplof. Die aanval is uitgevoer deur Lester Dumakude van Umkhonto we Sizwe direk na afloop van ʼn rugbywedstryd tussen Transvaal en die Vrystaat. Volgens Dumakude was die aanval bedoel om ʼn boodskap aan wit mense oor die toepassing van apartheid te stuur.
  • 1936: Die eerste Afrikaanse dagblad in Johannesburg, Die Vaderland, verskyn vir die eerste keer met Willem van Heerden as redakteur. Publikasie van die koerant is in 1988 gestaak toe dit by Die Transvaler ingelyf is.
  • 1888: Die Volkshospitaal word geopen. Hierdie tydelike gebou is vir twee jaar gebruik totdat die hoeksteen vir ʼn nuwe hospitaal deur Paul Kruger gelê is. Dié hospitaal sou later bekend word as die H.F. Verwoerd-hospitaal.
  • 1909: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns word gestig.
  • 1967: Die Afrikaanse skrywer en digter, prof. I.W. van der Merwe, beter bekend as Boerneef, sterf in die ouderdom van 70 jaar in Kaapstad. Boerneef is onder meer bekend vir sy gedig “Die berggans het ʼn veer laat val”.
  • Wêreldnuus: 1937: Die bekende vrouevlieënier Amelia Earhart verdwyn op ʼn vlug oor die Stille Oseaan.