20 Januarie 1831 – Geboorte van Piet Joubert

Petrus Jacobus (Piet) Joubert is vandag 189 jaar gelede op 20 Januarie 1831 in die Kaapkolonie, buite die teenswoordige Oudtshoorn, gebore. In 1837 trek die Joubert-gesin saam met die trek van Piet Retief weg uit die Kaap en gaan woon in Transvaal. Joubert was in sy leeftyd onder meer ’n suksesvolle boer, handelaar en stigter van verskeie maatskappye.

Hy is in 1865 as Volksraadslid van Wakkerstroom verkies waarna hy vir 14 maande lank as waarnemende president van die ZAR optree, terwyl president Burgers in Europa is. Tydens die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) vorm hy deel van die Transvaalse driemanskap en speel onder meer ’n sleutelrol in die oorwinning by die Slag van Majuba. Hy staan vier keer as presidentskandidaat van die ZAR, maar is elke keer deur Paul Kruger gewen. Gedurende die Anglo-Boereoorlog is Joubert die kommandant-generaal van die ZAR, maar sy oorlogstaktiek tydens dié oorlog is erg gekritiseer.

Hy word ernstig siek aan die begin van 1900 en sterf op 27 Maart 1900 aan maagvliesontsteking.

(Bron: Dae uit ons geskiedenis, Vriende van Afrikaans).

Lees meer oor Piet Joubert se betrokkenheid by die Eerste Vryheidsoorlog in dr. Jackie Grobler se boek “Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881”. Dié Kraal Uitgewers-publikasie is in 2019 met die SA Akademie se Protea Boekhuisprys vir geskiedskrywing bekroon en beskikbaar by die uitgewer se aanlyn winkel.