20 Mei 1916 – Eerste Huisgenoot verskyn

Vandag 104 jaar gelede, op 20 Mei 1916, verskyn die eerste uitgawe van die Huisgenoot. (Die Engelse weergawe, You, het eers in 1987 sy eerste verskyning gemaak.)

Die stigting van De Huisgenoot (soos wat die tydskrif oorspronklik bekendgestaan het) was hoofsaaklik om vir die Afrikaanse leser “inspirasie, inligting en ligte vermaak” te verskaf. Volgens mediakenner prof. Lizette Rabe was een van die hoofstrewes om deur die tydskrif Afrikaans as volwaardige taal uit te bou. “Die blad is later beskou as ‘die beslissende faktor in die skepping en vestiging van Afrikaans.’” In 1994 het Huisgenoot sy hoogste sirkulasievlakke bereik en is 542 118 tydskrifte verkoop en het die leserstal op nagenoeg 2,2 miljoen te staan gekom. Die topverkoper-uitgawe was ’n gedenkbylae wat ná die dood van prinses Diana in 1997 verskyn het en ’n sirkulasie van sowat 630 000 gehad het.

Vertel ons – watter gebeure, waaroor in die Huisgenoot geskryf het, onthou jy nog?