20 November 1926 – Engeland kondig outonomie vir oudste kolonies aan

Op 20 November 1926, vandag 94 jaar gelede, word in Londen aangekondig dat outonomie aan vyf van die oudste kolonies van die Britse Ryk toegestaan sal word (dit sluit in Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Newfoundland).

Dié besluit is vervat in die Balfour-verklaring wat bepaal het dat “Brittanje en die dominiums gelyke status het en op geen wyse ondergeskik aan mekaar is nie”, luidens Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika (onder redaksie van Hermann Giliomee en Bernard Mbenga), en volg op die eerste minister J.B.M. Hertzog (in samewerking met die Kanadese eerste minister, Mackenzie King) se eis daarvoor tydens die rykskonferensie in Londen. In Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika word soos volg oor dié verklaring en dit wat daarop gevolg het, geskryf:

“Volgens die Balfour-verklaring was Suid-Afrika daarop geregtig om ’n eie vlag te hê … Ná ’n bittere vlagstryd is ’n kompromie bereik waardeur die land twee vlae gekry het: ’n Suid-Afrikaanse nasionale vlag wat sowel die Union Jack as die vlae van die voormalige republieke sou bevat, en die tradisionele Union Jack wat op sekere plekke vertoon sou word om die land se lidmaatskap van die ryk te simboliseer.”

Die bepalings van die Balfour-verklaring is in 1931 bevestig met die Statuut van Westminister en in 1934 met die Statuswet wat deur die Suid-Afrikaanse Parlement aangeneem is. Hiermee was, volgens Giliomee en Mbenga “vir Hertzog en die meeste ander Afrikanernasionaliste … die gevoelens van onderdanigheid en minderwaardigheid jeens Brittanje grotendeels uit die weg geruim.”

(Foto: Koning George V (voor, middel) van Engeland en sy eerste ministers tydens die rykskonferensie van 1926. Agter v.l.n.r.: W.S. Monroe (Newfoundland), Gordon Coates (Nieu-Seeland), Stanley Bruce (Australië), J.B.M. Hertzog (Suid-Afrika), W.T. Cosgrave (Ierse Vrystaat). Voor v.l.n.r.: Stanley Baldwin (Brittanje), koning George V, William Mackenzie King (Kanada), bron: Wikimedia Commons).