20 Oktober 1899 – Slag van Talana

Op 20 Oktober 1899, vandag 121 jaar gelede, vind die Slag van Talana in die Anglo-Boereoorlog plaas.

Dié veldslag was die eerste groot slag van die oorlog en het op Talana- en Lennoxkoppies buite Dundee in Natal plaasgevind. Boerekommando’s onder leiding van genls. Lucas Meyer, D.J.E. (Maroela) Erasmus en J.H.M. Kock het met die Britse garnisoen onder genl. William Penn Symons wat op Dundee gestasioneer was, slaags geraak. Gedurende die nag van 19 Oktober het die Boerekrygers hul 75 mm Krupp- en Maxim Nordenfeldt-kanonne tot op Talanakoppie (net oos van die dorp) getrek en op die plat kruin stelling ingeneem. Die Boere se 155 mm Creusot-kanon is deur Erasmus se burgers tot op Impatiberg, noordwes van Dundee, getrek. Die 20ste se digte mis het egter enige akkurate vuur vanaf daardie posisie onmoontlik gemaak.

Teen dagbreek het die Boere hul eerste kanonskote gevuur en die Britte het dit vinnig beantwoord en vinnig tot by die Sandspruit (tussen Talanaheuwel en die dorp) beweeg. Die Boere het met Mauservuur gereageer en die Britse aanvallers, wat nader aan die heuwel beweeg het, onder druk geplaas. Genl. Penn Symons het ook op sy perd nader gery, maar is noodlottig gewond – hy het drie dae later aan sy skietwond beswyk. Die Britte het twee verdere aanvalspogings uitgevoer onder kol. James Yule. Volgens oorlewering het kapt. Weldon van die Royal Dublin Fusiliers, wat baie gewild was onder sy medesoldate, in die slag gesneuwel. Sy hond, Rose, het hom na die slagveld vergesel en het geweier om sy liggaam te verlaat. Die Britte het uiteindelik die kruin van die heuwel bereik, waarna die Boere teruggeval het. ’n Groep Britse soldate is wel deur Erasmus se burgers omsingel. Die Boere het die volgende dag weer met hul Creusot op die Britse kamp in Dundee losgebrand, waarna die Britte uit die dorp onttrek het.

Daar was nie ’n klinkklare oorwinning in die slag nie en beide Boer en Brit het op oorwinning aanspraak gemaak. Volgens veldslagkenner Nicki von der Heyde het die Boere daarin geslaag om die dorp in besit te neem, maar die betrokke Britse garnisoen het voortbeweeg na Ladysmith en daar noodsaaklike steun gaan verleen.

Die verliese aan albei kante was groot – met 52 Britte dood, 203 gewond en 246 gevange geneem, en 31 Boere dood, 66 gewond en 20 gevange geneem.

(Kaart: Die Slag van Talana, bron: Talana Museum, www.talana.co.za; ’n skildery wat die Slag van Talana uitbeeld, bron: www.theherigateportal.co.za. Bron: Field Guide to the Battlefield of South Africa, Nicki Von der Heyde)