21 Maart 1881 – begin van Eerste Vryheidsoorlog vredesonderhandeling

Op 21 Maart 1881 begin amptelike vredesonderhandeling gedurende die Eerste Vryheidsoorlog aan die voet van Majuba by die huis van R.C. O’Neill. Vrede word enkele dae later, op 23 Maart, in dié huis onderteken. Daarvolgens het die Transvaal weer selfbestuur herwin en sou dit tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (in 1899) behou.

In sy boek oor die geskiedenis van dié oorlog, skryf dr. Jackie Grobler die volgende oor O’Neill se huis: “Hierdie historiese gebou staan aan die voet van Majuba, aan die westekant van die nasionale pad (die N11) tussen Volksrust en Newcastle. Die GPS-koördinate is S 27º 30.030, E 29º 51.388. Die huis is in ongeveer 1870 deur P.A. Hayward de Bary opgerig. Hy was ’n lojale Rooms-Katoliek en het dié kliphuis in ’n kruisvorm ontwerp en op die voorste gewel ook ’n kruis aangebring. Die huis het in 1878 die eiendom van R.C. (Ou Gert) O’Neill geword en hy het ten tyde van die oorlog daar gewoon. Sommige van die gewonde Britse soldate is na die Slag van Majuba daar behandel en drie soldate wat gesneuwel het, is ’n entjie van die huis af begrawe. Die vredesooreenkoms wat die oorlog beëindig het, is op 23 Maart 1881 in dié huis onderteken. O’Neill se huis is in 1942 tot nasionale gedenkwaardigheid geproklameer en is onlangs deur die Erfenisstigting opgeknap.”

Grobler se boek is in 2019 met die Protea Boekhuis-prys vir geskiedskrywing vereer as die beste Afrikaanse geskiedenisboek van die voorafgaande drie jaar. Kry joune vandag nog by die Kraal e-winkel. Klik hier.