23 April is Wêreld Boekedag en Kopieregdag

Wêreld Boekedag en Kopieregdag is ’n belangrike dag, veral in Suid-Afrika waar net 14% van die inwoners graag lees en – skokkend vir die bibliofiele by Kraal Uitgewers – net 58% van huishoudings nie eers een enkele boek besit nie[1].

Hierdie datum is juis gekies omdat 23 April die dag is waarop beroemde skrywers soos Shakespeare en Cervantes oorlede is. Die dag word nou wêreldwyd herdenk om die impak en belangrikheid van skrywers, letterkunde en boeke op die samelewing te vier. Met Kraal Uitgewers se fokus op geskiedkundige publikasies is boeke juis ’n brug tussen generasies en ’n skakel tussen die hede en die verlede.

In die boeke- en uitgewersbedryf is kopieregwetgewing baie belangrik om veral outeurs en uitgewers te beskerm. Maar wat is kopiereg? WIPO, die Wêreldorganisasie vir Intellektuele Eiendom, definieer kopiereg as die reg van die outeur, ’n regsterm wat gebruik word om die regte van onder andere skrywers oor hulle boeke uit te beeld.[2]

Hoe raak dit jou as leser? Wel, as medeboekliefhebber sal jy bly wees om te weet dat kopiereg op boeke in Suid-Afrika ná 50 jaar verval,[3] waarna die inhoud dan aan die openbare domein behoort. Dit beteken dat ouer boeke waarvan die kopiereg reeds verval het, dan gebruik en gedeel kan word sonder om die skrywer skade of inkomste te berokken.[4] 

Kraal Uitgewers speel ook graag ’n rol. Ons bring nie net vir jou nuwe, toonaangewende publikasies oor die geskiedenis nie – ons stof ook ouer werke waarvan die kopiereg reeds verval het, af. Die inhoud word gedigitiseer en dan stel ons dit gratis beskikbaar aan ons lesers op die aanlyn platform Kraal Afgestof.

Herontdek verskeie bekende, minder bekende en selfs vergete boeke uit ons geskiedenis deur by hierdie digitale platform aan te sluit. Ondersteuners van Kraal Uitgewers kry eksklusiewe toegang tot elektroniese weergawes van ou gunstelinge wat lank reeds nie meer in druk is nie en nou so skaars soos hoendertande geword het.

Om toegang tot dié platform te kry is eenvoudig:  Gaan na Kraal Afgestof, teken in op die nuusbrief van Kraal Uitgewers en binne ’n japtrap stuur ons vir jou ’n e-pos. Volg bloot die skakel daarop om jou elektroniese boeke gratis af te laai.

So waarvoor wag jy? Vier Wêreld Boekedag en Kopieregdag met ’n gratis boek of twee wat “afgestof” en elektronies beskikbaar is.


[1] Pople, L. “Help om leeskultuur te bevorder in Nasionale Boekweek”, Netwerk24, 31 Augustus 2019. Aanlyn beskikbaar by https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/help-om-leeskultuur-te-bevorder-in-nasionale-boekweek-20190829 (Toegang verkry: 22 April 2021).

[2] WIPO. “What is copyright?” World Intellectual Property Organization, n.d. Available online at https://www.wipo.int/copyright/en/ (Accessed: 22 April 2021).

[3] Smit & Van Wyk Attorneys. “Copyright Law in South Africa”, 2021. Available online at  https://www.svw.co.za/copyright-in-south-africa/ (Accessed: 22 April 2021).

[4] Myburgh, M. “E-boeke: Afrikaans word ‘dood gesteel’ ”, LitNet, 6 Mei 2020. Aanlyn beskikbaar by https://www.litnet.co.za/e-boeke-afrikaans-word-dood-gesteel/ (Toegang verkry: 22 April 2021).