24 April 1980 – Digter W.E.G. Louw sterf

Vandag 40 jaar gelede, op 24 April 1980, sterf die Afrikaanse digter W.E.G. Louw (67) op sy kleinhoewe “Sondraai” buite Stellenbosch.

W.E.G. was die jongste van vier broers – sy bekende skrywersbroer, N.P. van Wyk, was sewe jaar ouer. Die Louw-seuns is op Sutherland gebore, maar toe W.E.G. sewe jaar oud was, het die gesin na Kaapstad verhuis. W.E.G., wat verskeie letterkundige pryse gedurende sy loopbaan ontvang het (waaronder die Hertzogprys vir letterkunde in 1934), het reeds as skoolseun begin dig in Afrikaans én Engels. Sy eerste digbundel, Die ryke dwaas, verskyn in 1934. Dié werk het, volgens die skrywer Etienne Britz die Dertigersbeweging van Afrikaanse letterkunde ingelui en het Afrikaanse digkuns ’n Europese standaard begin nastreef. Oor W.E.G. se digkuns, en spesifiek sy liefdesgedigte, is onder meer in Die Huisgenoot van 12 Maart 1948 geskryf: “Net soos sy natuurliriek is Louw se liefdesgedigte verfynd en sensitief, maar tegelyk aards en warm-menslik.” Agt digbundels het tussen 1934 en 1980 uit W.E.G. se pen verskyn, sowel as drie bloemlesings en verskeie vertalings en prosawerke.

Dra die naam van W.E.G. of N.P. van Wyk Louw met trots op jou bors en kry vandag nog een van Kraal Uitgewers se Louw-T-hemde. Klik hier vir meer inligting.

(Bron: Litnet, Stellenboschwriters.com, illustrasiebron: Kraal Uitgewers, gedig is ’n uittreksel uit W.E.G. Louw se gedig “Stil aand”)