24 Augustus 1572 – St. Bartholomeusnag: Rooms-Katolieke val Protestante aan

Op 24 Augustus 1572, vandag 488 jaar gelede, begin St. Bartholomeusnag, oftewel die Bloedbruilof, in Parys toe Rooms-Katolieke ’n aanval op Protestante by die huweliksfees van Margaretha van Valois en Hendrik van Navarre (die latere koning Hendrik IV van Frankryk) uitvoer.

Aanvalle op Hugenote het vinnig ook na ander streke uitgebrei. In Parys alleen is sowat 4 000 Hugenote dood, terwyl die aantal sterftes in die res van die land tot 10 000 gestyg het. Hierdie gebeurtenis het bygedra tot ’n grootskaalse uitvloei van Franse Protestante, bekend as Franse Hugenote, uit dié land. Gedurende die 1600’s en 1700’s het meer as 200 000 mense uit Frankryk gevlug. Die Hugenote het reeds sedert die 1500’s ernstige vervolging in hul vaderland beleef. Hulle het die Protestantse geloof aangehang, en is daarom deur die Rooms-Katolieke heersers veroordeel en vervolg. 

Nagenoeg 300 Franse Hugenote het ’n heenkome in Suid-Afrika gevind, waar hulle teen die laat 1680’s sowat ’n vyfde van die Europese bevolking aan die Kaap gevorm het. Navorsing toon dat tot 20% van die Afrikanergemeenskap in Suid-Afrika vandag hul wortels kan terugtrek na Franse stamvaders. Die Hugenote-stamvaders se nasate is vandag wyd oor Suid-Afrika (en die wêreld) versprei en sluit onder andere die families Cronjé (oorspronklik gespel Cronier), Du Preez (Du Pre of Du Prez), Hugo (Hugot), Jordaan (Jourdan), Malan (Mallan), Nortjé en Nortier, Retief (Retif) en Roussouw (Rousseau) in.

(Illustrasies: Die Hugenote-kruis en twee bekende Hugenote-families se wapens – Marais en Rousseau.)