25 Januarie 1913 – Robey Leibbrand op Potchefstroom gebore

Op 25 Januarie 1913 word Robey Leibbrand op Potchefstroom gebore.

Hy verwerf bekendheid in Suid-Afrika as bokser en haal in 1936 die halfeindronde op die Olimpiese Spele in Berlyn. Prof. P.G. Nel skryf soos volg oor Leibbrand in die Afrikaanse kultuuralmanak:

“Gedurende die Tweede Wêreldoorlog bevind hy hom in Duitsland, terwyl die Unieregering Engeland teen Duitsland steun. Met die hulp van die Duitse weermag, keer hy in 1941 in die geheim na Suid-Afrika terug met die seilboot ‘Kyloe’ en maak kontak met die Ossewa-Brandwag, wat ten sterkste teen die Regering se oorlogsbeleid gekant was. Hy bring ’n kerngroep van 300 man op die been om die Smuts-regering in sy oorlogspoging te verlam. As rebel het hy in die Afrikanersaak geglo en wou hy sy volksgenote (soos Hitler) tot ongekende hoogtes aanspoor. Na sy inhegtenisneming word hy in 1943 ter dood veroordeel, wat later in lewenslange gevangenskap verander is. Hy is in 1948 vrygelaat, en op 1 Augustus 1966 is hierdie romantiese figuur uit die tyd van die Ossewa-Brandwag oorlede.”