25 Maart 1943 – Ossewabrandwag hoofgeneraal stef

Op 25 Maart 1943 sterf die “eerste Afrikaanse megasportster” en latere hoofgeneraal van die Ossewabrandwag (OB), Johannes van der Walt. Van der Walt het op 23-jarige ouderdom begin stoei en in die 1930’s wêreldbekendheid in dié sport verwerf. Volgens die skrywer van “Wit terroriste: Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwagjare”, Albert Blake, het stoeigevegte waaraan Van der Walt deelgeneem het as die “Gemaskerde Wonder” vol sale in die VSA en Europa gelok. Hy het selfs eens voor nagenoeg 95 000 toeskouers in Athene aan ’n geveg deelgeneem. Sy “volstruisskop” was volgens oorlewering een van sy beste wapens in die ring.

Van der Walt het egter later berug geword vir sy betrokkenheid by die Ossewabrandwag en veral as stigterslid van dié organisasie se Stormjaers. Hy was betrokke by sabotasie-aktiwiteite en volgens Blake ook geïmpliseer in die opblaas van die kantore van “The South African Jewish Times”. Hy is in 1941 in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Hy ontsnap uit aanhouding en word ’n voortvlugtige van die gereg. Nadat Van der Walt ook weier om ’n opdrag van die OB uit te voer word hy geskors en ’n bittere stryd ontstaan tussen Van der Walt en dié organisasie wat hy so getrou gevolg het.

In ’n polisiejaagtog word Van der Walt in Februarie 1942 geskiet en in die onderlyf gewond. Hierna was hy permanent verlam. Hy sterf sowat ’n jaar later op 25 Maart 1943. “Van die eens forse man van 105 kilogram was skaars 45 kilogram oor,” skryf Blake oor Van der Walt se einde.

 

 

 

 

 

 

 

 

(Fotobron: https://af.wikipedia.org/wiki/Johannes_van_der_Walt)