25 November 1914 – Jan Kemp se Rebellekommando veg by Rooidam

Op 25 November 1914 raak Jan Kemp se Rebellekommando – wat in daardie stadium uit sowat 600 man bestaan het – by Rooidam in die Kalahari in ’n hewige geveg met die Unieverdedigingsmagte (UVM) onder kol. Ben Bouwer gewikkel.

Om 08:00 daardie oggend het Kemp se mag die windpomp op Rooidam van die regeringsmagte verower – ’n uiters belangrike punt, want in daardie stadium het Kemp-hulle reeds ’n tog van nagenoeg 120 km deur die woestyn afgelê. Teen die aand is die Rebelle feitlik omsingel deur die ongeveer 6 000 regeringstroepe. Hulle slaag egter ná donker die aand daarin om tussen die regeringsmagte uit te trek. ’n Aantal van Kemp se Rebelle word egter die volgende dag op Rooidam gevange geneem en Louis Botha neem bevel oor van die UVM om te probeer voorkom dat Kemp se kommando die grens na Duitswes-Afrika oorsteek.

Andries Raath skryf in Die Afrikanerrebellie, 1914-1915 dat die Rebelle dikwels op die visioene van Niklaas van Rensburg (bekend as Siener) staat gemaak het.

“As gevolg van die voortdurende berigte oor visioene wat Niklaas van Rensburg waargeneem het, kon die Rebelle telkens uitvlugroetes vind ten spyte van die Uniemagte se groot oormag. By Rooidam was die Rebelle ooggetuies van die merkwaardige sienersgawe van Niklaas van Rensburg. As gevolg van sy visioene kon die Rebelle aan die vangnet ontkom wat deur Botha vir hulle gestel is.”

(Foto: Kol. Ben Bouwer, heel links. Op merkwaardige wyse het die Rebelle van genl. J.C.G. Kemp daarin geslaag om ’n afdeling Unietroepe onder bevel van Bouwer by Rooidam te fnuik. Bron: Die Afrikanerrebellie, 1914-1915)

Die Afrikanerrebellie is ’n uitsonderlike koffietafelboek oor die Rebellie van 1914. Dit is tans beskikbaar by Kraal Uitgewers teen slegs R330. Klik hier om dit in Kraal se e-winkel aan te koop.