26 Augustus

  • 1929 ― Suid-Afrika se eerste kommersiële lugdiens word bekendgestel. Die maatskappy, Union Airways Company, het met vyf sakke pos as bagasie van Maitland na Port Elizabeth gevlieg. Passasiersvervoer is eers in 1934 ingestel en vlugte was slegs tussen Durban en Johannesburg beskikbaar.
  • 1985 ― Zola Budd, Suid-Afrikaanse langafstandatleet, verbeter die wêreldrekord in die 5 000 m vir vroue met meer as tien sekondes by ʼn klein byeenkoms in Crystal Palace in Engeland. Weens die verbod op Suid-Afrika se deelname aan internasionale byeenkomste moes sy Britse burgerskap aanvaar om aan internasionale atletiek te kon deelneem. Budd was bekend daarvoor dat sy kaalvoet gehardloop het, selfs by groot byeenkomste.
  • 1997 ― F.W. de Klerk bedank as leier van die Nasionale Party (NP). Hy was ʼn belangrike rolspeler in die totstandkoming van die nuwe Suid-Afrika en het die verbod op politieke partye soos die ANC, PAC en die SAKP opgehef. In 1993 het hy die Nobel-prys vir Vrede met Nelson Mandela gedeel.