26 Februarie 1915 – Digter Elisabeth Eybers gebore

Die geliefde Afrikaanse digter Elisabeth Eybers is vandag 105 jaar gelede, op 26 Februarie 1915, in Klerksdorp gebore, maar het op Schweizer-Reneke grootgeword. Sy het ná skool aan die Normaalkollege en die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg studeer en behaal in 1936 haar honneursgraad in Afrikaans waarna sy as joernalis werksaam was. In 1943 ontvang sy die eerste keer die Hertzogprys vir haar eerste twee bundels (Belydenis in die skemering en Die stil avontuur). Sy emigreer in 1961 na Nederland, maar skryf steeds in Afrikaans en ontvang weer in 1971 die Hertzogprys. Haar loopbaan het oor nagenoeg 70 jaar gestrek – ’n tyd waarin sy ’n merkwaardige bydrae tot die Afrikaanse letterkundige skatkis gemaak het.

Die skrywer Ena Jansen het in 2015 tydens die 100ste herdenking van Elisabeth se geboorte en die oorplasing van haar persoonlike besittings en boeke na Bloemfontein soos volg oor dié legende vertel: “Ek ken … min digters met wie lesers so intiem saamleef as met Elisabeth Eybers. Sy is ’n digter wie se Versamelde gedigte op jou bedkassie lê, wat jy present gee aan jou dogter as sy haar eerste baba verwag, wat jy aan kinders in die buiteland stuur, wat jy lees wanneer jy wakker lê en nadink oor die naderende dood.” Nagenoeg dertig bundels het sedert 1936 uit Elisabeth se pen verskyn. Sy is op 1 Desember 2007 in Amsterdam oorlede.

Foto: Die oorspronklike handgeskrewe weergawe van “Die geskenk”, ’n gedig wat in Elisabeth se bundel Die stil avontuur ingesluit is. (Bronne: https://antiquarianauctions.com/lots/die-stil-avontuur-original-manuscript-, en Litnet)