26 Mei 1971 – SA Lugmag bemanning sterf in vliegongeluk teen Duiwelspiek

Op 26 Mei 1971 sterf elf bemanningslede van die Suid-Afrikaanse Lugmag in ’n demonstrasievlug, nadat drie Hawker Siddeley 125 Mercurius-stralers teen die hang van Duiwelspiek in Kaapstad vasvlieg.

Volgens ’n artikel op defenceweb.co.za was die vlug deel van oefeninge vir die tiende Republiekdagvieringe waaraan 220 vliegtuie sou deelneem. Mistige toestande was na bewering die rede vir dié tragiese ongeluk. ’n Blogartikel oor moderne Suid-Afrikaanse militêre geskiedenis, The Observation Post, skryf soos volg oor die ongeluk: “The mountain was shrouded in mist and it is believed the lead aircraft most probably miscalculated the arch of its turning circle coming from the direction of the Athlone cooling towers. The lead aircraft’s error in judgement meant the other two tragically followed it into the mountain with the loss of all three.” ’n Artikel oor die ongeluk wat op 27 Mei 1971 in “The New York Times” geplaas is, het aangevoer dat agt offisiere en drie ander lugmaglede in die ongeluk gesterf het. Die minister van verdediging, Piet W. Botha, het volgens die koerant aangevoer dat die oorledenes vlieëniers en bemanningslede vir hooggeplaaste regeringsamptenare was.

 

(Foto: Die Mercurius 4 afgeneem in 1982. Dié vliegtuig het nie aan die noodlottige vlugformasie van Mei 1971 deelgeneem nie; die voorblad van “The Cape Times” dra die nuus van die Duiwelspiek-ongeluk. Bronne: saairforce.co.za en bidorbuy.co.za)