27 Januarie 1797 – Anna Steenkamp op Franschhoek gebore

Op 27 Januarie 1797 word Anna Steenkamp (niggie van Piet Retief) op Franschhoek gebore.

Anna se wedervaringe tydens die Groot Trek is in 1937 gepubliseer en gee ’n beskrywing van die uitdagings wat sy op die trek beleef het. Die uitvoerende hoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann, verwys dikwels na Steenkamp se visie om te plant. Hy skryf onder meer:

“Sy trek uit die Kaap met ’n sakkie akkers. Die akkers trek saam en beleef die ontberings van die Groot Trek, eers na Winburg, toe af na Natal. Die akkers hoor van die moorde op Piet Retief se geselskap en beleef die moorde by Bloukransrivier en Weenen. Die akkers hoor van die oorwinning by Bloedrivier, van die Engelse wat Natal weer beset. Die akkers trek saam met Anna Steenkamp. Sy vestig haar in Lindley en sy plant die akkers. Tot vandag toe word daar Geloftefees onder Anna Steenkamp se akkers gehou en uit ’n stuk van die boom is ’n tafel vir die kerk se konsistorie gebou … As jy twyfel oor die toekoms, plant!”

Hermann skryf ook oor Steenkamp se visie om te plant, en die nuwe generasie wat hierdie tradisie voortsit in sy boek Ons sal self en ander briewe aan Suid-Afrika wat onlangs by Kraal Uitgewers bekendgestel is. Dié boek bevat nagenoeg 30 brutaal eerlike ope briewe waarin Hermann standpunt inneem teen die onderdrukkende boeliegedrag van die Suid-Afrikaanse regering, maatskappye én individue teenoor Afrikaners. Dit bied ’n blik op die uitdagings wat dié gemeenskap die afgelope paar jaar in die gesig staar. Kry jou kopie teen slegs R180 vandag nog hier.