27 Januarie 1879 – Edison ontwikkel gloeilamp

Op 27 Januarie 1879 het Thomas Edison die eerste kommersiële elektriese gloeilamp suksesvol ontwikkel. Hoewel die wêreld dikwels net Edison se bydrae onthou, was hy nie enigste uitvinder wat aan die ontwikkeling van elektriese lig gewerk het nie. Verskeie mense, insluitende Alessandro Volta en Humphry Davy het reeds sedert die vroeë 1800’s die opwekking van elektrisiteit en die gebruik daarvan vir beligting ondersoek.

In 1860 het die Engelse chemikus Joseph Swan reeds ’n gloeilamp ontwikkel wat met verkoolde gloeidrade werk. Dié ontwerp is in 1878 in Brittanje gepatenteer. Op eie bodem is Swan se lampe gebruik vir die eerste straatligte in Suid-Afrika (en moontlik die eerste in die suidelike halfrond) toe 16 elektriese straatligte in September 1882 in Kimberley aangeskakel is. Interessant genoeg, het Londen in daardie stadium nog van gasstraatligte gebruik gemaak.

(Foto: Dié foto toon een van die Swan-ligte wat op die Dutoitspanweg in Kimberley gebruik is. Bron: www.kimberley.org.za)