27 Junie 1791 – Eienaar van eerste boekwinkel in SA gebore

Op 27 Junie 1791 word ’n man van vele eerstes in die Suid-Afrikaanse boeke- en leeswêreld gebore.

Joseph Suasso de Lima, skrywer, digter en die eienaar van die eerste boekwinkel in Suid-Afrika, is op dié dag 229 jaar gelede, in Amsterdam, Nederland, gebore. Sy boekwinkel, Foreign Book & Stationary Warehouse, ook genoem South African Bazaar is in 1835 op die been gebring en was geleë in Kerkstraat 30, Kaapstad. De Lima was ook die stigter en redakteur van die eerste onafhanklike Nederlandse koerant in Suid-Afrika, “De Verzamelaar”.

Volgens ’n advertensie vir die boekwinkel wat in die “The Cape of Good Hope Government Gazette” van 3 November 1837 verskyn het, het sy boekwinkel moderne Engelse en Nederlandse boeke verkoop. ’n Studie het getoon dat die winkel ook Arabiese boeke verkoop het. De Lima het vir die laaste paar jaar van sy lewe as joernalis vir “Het Volksblad” gewerk. Hy is in 1858 in Kaapstad oorlede.