27 Maart 1985 – Westdene-busramp

Vandag 35 jaar gelede, op 27 Maart 1985, vind die tragiese Westdene-busramp in Johannesburg plaas. ’n Skoolbus met leerlinge van die Hoërskool Vorentoe het op dié dag van die pad af gery en in die Westdenedam geland. Dié ongeluk het tot die dood van 42 leerlinge gelei. Die oorsaak van die ongeluk is nooit vasgestel nie. Moira Kloppers skryf op Solidariteit Blog soos volg oor dié gebeure: “Dit was 27 Maart 1985, toe selfs geharde polisiemanne en joernaliste langs rye en rye toegegooide lykies gestaan en huil het. Hulle lewelose hande en voete – nog met skoolskoene aan het onder grys komberse uitgesteek.

Altesaam 42 hoërskoolleerlinge van Vorentoe Hoërskool het omstreeks 13:00 die middag op 27 Maart 1985 ’n waterdood gesterf toe die dubbeldekkerbus wat hulle ná skool huis toe vervoer het, deur die sypaadjie gebars en in die Westdene-dam weggesink het. Tot vandag toe kan ooggetuies van die tragiese gebeure nie besluit wat erger was nie. Die gille van die kinders in die bus of die stilte wat daarop gevolg het nie. Of die wanhoopskrete van die ouers wat later soos ’n refrein langs die dam opgeklink het nie.”

Bronne verskil oor die aantal leerlinge wat die ongeluk oorleef het, sommige meen 30, terwyl ander verwys na 34. Die webblad www.westdene1985.co.za bring onder meer hulde aan slagoffers van dié ramp.

(Foto’s: Omstanders kyk toe hoe reddingswerkers op die toneel werk, sommige staande op die dak van die bus; die skoolbus word uit die dam gelig. Bron: www.westdene1985.co.za)