28 Januarie 1881 – Slag van Laingsnek

Vandag 140 jaar gelede vind die Slag van Laingsnek gedurende die Eerste Vryheidsoorlog plaas.

Dié veldslag was ’n gevoelige nederlaag vir die Britse magte. Die Britte se ondoeltreffende kanonvuur (weens die aard van die terrein) en die mislukte aanval deur die Britte se berede eskadron is ná die veldslag as die twee belangrikste redes vir die Britte se nederlaag beskou. Die Boere se dappere optrede is egter volgens die skrywer van die bekroonde publikasie Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881, dr. Jackie Grobler, ’n verdere belangrike rede vir die Britte se nederlaag in dié veldslag.

Grobler skryf: “Dit [die Boere se dappere optrede] het die Britte onkant betrap.” Die Britse aanvoeder het boonop die Boere onderskat en gereken dat sy kanonne genoeg sou wees om ’n Britse oorwinning te verseker. Britse bronne verskil oor die aantal Britse verliese weens die slag, maar volgens betroubere bronne is nagenoeg 110 Britte gewond en sowat 80 dood. Aan Boerekant het 14 gesneuwel, 2 het kort ná die slag aan hul wonde beswyk en 27 is gewond. Op dié foto verskyn die 25-jarige Dirk Cornelis Uys, een van die Boere wat in die veldslag gesterf het. Hy was die seun van Swart Dirk (Dirk Cornelis) Uys, en kleinseun van Koos Bybel (Jacobus Johannes) Uys.

Bron: Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881. Die boek is hier beskikbaar in Kraal Uitgewers se e-winkel.