28 Julie 1990 – Hallmark-bom ontlont

Op 28 Julie 1990, vandag 30 jaar gelede, word die polisie ingelig van ’n verdagte minibus in ’n parkeerterrein in die Hallmark-gebou in Vermeulenstraat, Pretoria, en ontdek dat die bussie ’n motorbom bevat.

Die bom word suksesvol ontlont deur die ’n spesialis van die Suid-Afrikaanse bomeenheid, George Francois Hammond*. Die Suid-Afrikaanse Polisie se goue kruis vir uitsonderlike dapperheid in omstandighede van uitermatige gevaar is later aan hom toegeken. Daar is bevind dat dié bom baie kragtiger was as die sogenaamde Kerkstraat-bom wat in 1983 tot die dood van 19 mense gelei het. Meer as 200 mense is in daardie aanval beseer. Die Hallmark-bom het uit 38 S23-demolisieladings van 3 kg plofstof elk (dus 114 kg plofstof) bestaan terwyl die Kerkstraat-bom uit tussen 35 en 50 kg plofstof bestaan het. Volgens ’n SAPA-berig uit 1998 het Hammond die kragtige Hallmark-bom ontlont skaars vyf minute voordat die bom gestel was om net voor 10:00 daardie Saterdagoggend te ontplof. Hammond het ook verskeie ander bomme suksesvol ontlont en talle toekennings hiervoor ontvang.

(Foto: Die wapen van die Suid-Afrikaanse Polisie wat tot 1994 in gebruik was.)

* Volgens inligting wat van ’n Kraal-ondersteuner ontvang is, was nog twee bomdeskundiges, naamlik Fritz August Rost en Hein Prinsloo, prominent betrokke by die ontlonting van die bom in die Hallmark-gebou.