28 Junie 1948 – Berlynse Lugbrug deur die Weste ingestel

’n Skare mense by Tempelhof-lughawe in Berlyn kyk in 1948 toe hoe nog ’n vliegtuig land as deel van die Berlynse Lugbrug.

Op 28 Junie 1948, vandag 72 jaar gelede, word die Berlynse Lugbrug (in Engels bekend as die Berlin Airlift) deur die Weste ingestel.

Ná die Tweede Wêreldoorlog is Duitsland in vier sektore verdeel met Brittanje, die Sowjet-Unie, Frankryk en die VSA in beheer van elkeen van dié sektore. Die Duitse hoofstad, Berlyn, word op dieselfde wyse ingedeel – vandaar die verdeling van Oos- en Wes-Berlyn. Deur middel van lug-, spoor-, en padvervoer kon die Westerse moondhede toegang verkry na hul onderskeie Berlyn-sektore wat midde-in die Russe se sektor geleë was. Die Weste se besluit om kragte saam te snoer in Wes-Berlyn en ’n nuwe geldeenheid daar in te stel het die Russe ontsenu. Op 27 Junie blokkeer die Russe die Weste se spoor- en padverbindings na Berlyn – wat daardeur onder meer die stad van noodsaaklikhede soos voedsel en steenkool (vir kragopwekking) afgesny het. Deur middel van tientalle vliegtuie (dus die Berlynse Lugbrug) het Westerse lande tot Mei 1949 (toe die Russe die blokkade opgehef het) die inwoners van Berlyn van noodsaaklike hulpmiddelle voorsien. Gedurende dié 11 maande het nagenoeg 277 000 vlugte Wes-Berlyners te hulp gesnel en daagliks sowat 5 ton brandstof en kos in dié deel van die stad afgelewer. Vyftig lede van die Suid-Afrikaanse Lugmag het ook vanaf September 1948 aan dié operasie deelgeneem. Een van die lugmag se Dakota-vliegtuie is ook vir die Lugbrug ingespan. Volgens die SAAF-museum het die  Suid-Afrikaanse Lugmag 4 133 ton se goedere vervoer in die 1 240 sendings wat onderneem is.

Klik hier vir ’n kort video deur die Smithsonian Channel oor die geskiedenis van die Berlynse Lugbrug, of lees die artikel daaroor op die blog “The Observation Post”.

(Foto: ’n Skare mense by Tempelhof-lughawe in Berlyn kyk in 1948 toe hoe nog ’n vliegtuig land as deel van die Berlynse Lugbrug.)